Carine Louise van Wyk 17 Oct 1973 – 15 Jan 2012
  1. admin 09/02/2012 at 07:55 # Edit

    Carine Louise van Wyk (Carina)
    (Ons liefste Cari)
    17 Oktober 1973 – 15 Januarie 2012
    In Januarie 2003 stap ek en my graad 1 seuntjie heeltemal vreemd by die nuwe skool in. Die eerste gesig wat ek sien is die van Carina wat warm en vriendelik en met ‘n sonstraal glimlag na ons toe stap en ons verwelkom in die skool en in haar hart.
    Ons deel die afrikaanse deel van die graad een en twee klassies en ons word vriende, nee, sussies in die tyd wat ons langs mekaar skoolhou. Sy word my seuntjie se gunsteling juffrou en my beste vriendin.
    Sy trou op 11 Desember 2004 met Manie van Wyk op ‘n sprokiesgeleentheid by Umbhaba Lodge. Hier al het ek geleer dat haar gunsteling blomme, pienk-oranje Gerbras is.
    Min het ek gelukkig toe geweet dat daardie einste blomme wat haar oë so van blydskap laat blink het, dieselfdes sou wees as die wat 8 jaar later ons harte sou stukkend skeur toe ons dit by haar laaste rusplek vir haar sou los.
    2005 word vir ons albei ‘n jaar van nuwe dinge, want sy los die skool vir die plaas en ek begin met ‘n kleuterskool. Dit is dan ook Carina wat kort kort kom inloer om hallo te sê of om ietsie te bring.
    Die Vader seën haar en Manie op 11 Julie 2007 met ‘n kosbare geskenk. Durandt word op daardie dag gebore en dis ook van daardie dag af wat ek Carina se innerlike krag leer ken. Durant is nie gesond nie maar Carina bly glimlag. Soms, wanneer sy swaar kry en die trane vir haar seuntjie in haar oë blink, kos dit net vir Durandt om sy “Cari” te roep en dan breek haar sonskynglimlag weer deur.
    Ons Vader het vir Durandt veilig in die palm wan sy Wonderwerkhand gehou en dokters moes telkemale maar net verstom staan oor sy vordering en gesondheid. Hy was dikwels siek, en moes baie geopereer word en dit was nie vir Carina en Manie maklik nie. Sy het egter die vermoë gehad om die wonder van haar seuntjie raak te sien agter die pyn van sy siekte.
    Vroeg in sou hulle die operasie doen om ‘n nier vir Durandt te gee om sodoende vir hom ‘n kwaliteit lewe te gee. Sy was so bly dat sy vir hom iets kon doen wat sy pyn en siekte sou verlig.
    In Februarie wys ons Vader vir haar dat sy nie oor Durandt bekommerd moet wees nie en dat Hy self vir hom sal sorg. Hy gee vir haar ‘n teken. Elke keer as sy ‘n arend sien dan dien dit as bevestiging van Sy belofte. Carina het gereeld opgewonde vertel dat sy elke dag die belofte-arend in een of ander vorm gesien het.
    Dit is ook toe dat Carina swanger raak en die dokter vir haar sê dat dit so goed gaan met Durandt dat hulle maar “bietjie” kan wag met die oorplanting totdat die nuwe baba gebore is. Carina egter voel dat sy vir Durandt in die steek laat, maar die Here is getrou en hou hom wonderbaarlik gesond.
    Manie en Carina se dogtertjie, Danè, die enetjie waarvan hulle gedroom het, met die fonteintjie op haar koppie, word gebore op 1 September 2011. ‘n Regte klein lentebloeisel.
    Soos met nuwe mammas is Carina maar moeg. Maar die moegheid is meer as die van ‘n mamma wat te min slaap. Later sê Carina in elke gesprek en elke sms dat sy verskriklik moeg is. Ek troos en sê vir haar dat dit sal beter word. Ek probeer haar oortuig dat twee kleintjie maar harde werk is en dat die moegheid sal verbygaan. Maar niemand van ons weet van die ding in Cari se bloed nie. Die ding wat haar uiteindelik van ons sal wegneem. Cari se moegheid gaan nie oor nie…
    Op 5 Januarie diagnoseer ‘n dokter haar met “Desember-siekte” en skryf ‘n anti-deppresant voor. Ook sommer ietsie vir haar keel wat seer is. Na die besoek kuier ons op die foon en gesels ons soos altyd vir ‘n uur aaneen oor alles, en Carina sê weer vir my: “Sus, ek is baie, baie moeg”
    Ek sê sy moet rus en gesond word, want sy kan nie moeg wees as sy haar nuwe skooltjie begin waarna sy so uitgesien het nie. Durandt en ander vyfjariges sou vanaf 18 Januarie 2011 by Juffrou Cari begin leer het van allerhande voorskoolse ontwikkelingsdinge.
    9 Januarie 2012. Carina besoek ‘n ander dokter want haar toestand verbeter nie. Sy bly moeg en sy het die vreemdste bloukolle op haar lyf. Sy bel my nie na die doktersafspraak soos gewoonlik nie. Manie bel my. “Cari het kanker….”
    Dit kan mos nie gebeur met jou sussie-maatjie nie. Carina is 38 en haar kinders is klein. Danè is maar 4 maande oud!
    Ek kry berusting en glo dat die kanker nie sal wen nie. Carina is sterk en sy sal dit oorwin in Jesus se naam.
    Sy word in Pretoria opgeneem in Pretoria –Oos hospitaal want die goeie dokters is daar, die behandeling is uitstekend. Op 11 Januarie gaan kuier ek vir Carina en hulle laat my toe om haar te sien. Ek het die voorreg om haar te sien, vir haar te bid en vir haar te sê hoe lief ek vir haar is. Sy is reeds baie moeg, maar haar oë is steeds sterk, soos ek haar ken.
    Sy word in kwarantyn behandel en word elke dag swakker. Dokters sê dat die leukemia aggressief is en dat die aggressiewe behandeling haar baie moeg sal maak. Ons bly hoop. Ons bly bid.
    Ons Vader verseker ons in Johannes 14 dat wanneer Hy ons plekkie in die hemel gereed gemaak het, kom Hy ons haal om daar te bly. Op Sondag, 15 Januarie 2012 kom haal ons Vader vir Cari. Kom neem Hy sy Gerbra met die glimlag na Hom toe.
    Carina se stem is stil, haar plek in my lewe is leeg. My vingers huiwer gereeld op haar nommer op my foon. My hart, ons harte is stukkend. Sy kon uiteindelik deur daardie hekkie gaan waardeur sy twaalf jaar gelede wou gaan. Haar kruik op aarde se stukkies is oral en so baie van ons koester dit in ons harte.
    Ons verlange is groot en die seer soms verskriklik, maar ons vertrou ons Vader wat vir ons sê dat “ons maar net ten dele ken, maar eendag sal ons alles ten volle ken”.
    Ek mis jou Cari.

    Marlene Heenop

     
  2.  
    Manie van Wyk 13/02/2012 at 10:05 

    CARI

    Ek wil eerstens vir ma Lenie en pa Sarel se baie dankie vir die geleentheid om ‘n deel van Cari se lewe te kon wees. Dit was ‘n groot voorreg om Carina as my lewensmaat te kon he. Nie net het ons ‘n wonderlike huwelik gehad nie, maar ‘n besondere “vriendskapsverhouding” waar ons mekaar so goed verstaan het.Van die dag toe ek Cari ontmoet het, het daar ‘n gesprek tussen ons begin wat net nooit opgehou het nie.

    Dankie Cari vir die wonderlike vrou wat jy vir my was. Ons het mekaar so goed geken. Ons kon mekaar se vreugdes deel , “down” wees deel, absoluut alles deel. Jy het my soveel kere opgetel as die daaglikse dinge druk. Jy was soveel kere saam my bly oor suksesse, en het saam my uitgesien en beplan aan nuwe uitdagings. Enige tyd, al was ek waar ookal besig, en ek wou enige iets met iemand deel, dan het my duim sommer outomaties jou nommer op my foon opgesoek. Cari my diertjie. Jy was absoluut my beste vriend.

    Dan het ek ook 2 tot 3 keer per dag ‘n oproep van jou gekry met: “Hi my Bok. Hoe gaan dinge aan jou kant vandag”. Ai ou Cari. Ek mis jou so vreeslik baie.

    Dan. In die middae na werk by die huis aankom. Dit was die hoogtepunt van my dag. Jy wat by die huis staan, Dane in jou arms en besig om bal te skop saam met Durandt met daai altyd teenwoordige “smile”- bly om my te sien. Dankie dat jy so onvoorwaardlik lief was vir my. Dit het uit jou uit gestraal elke keer as ek jou sien.

    Jy Cari was my grootste maat. Ek kon saam jou huil, lag, beplan, terugkyk, leer uit foute, vorentoekyk. Ek kon saam jou bekommerd wees, bly wees, saam bid, saam vertrou – jy het my geleer om alles in die Here Se hande te los en dan te vertrou dat God sal voorsien.

    Jou liefde vir die lewe, liefde vir die natuur. Die laataande in die wildtuin onder die volmaan langs ‘n kampvuur. Ons twee saam langs die Sabierivier sit en geniet God se skepping – sonder woorde – maar tog so naby mekaar.

    Ek kon saam jou “common” raak wanneer ons onsself blou verf en Loftus toe ry. Daarna gaan blyplek soek omdat ons bang is die familie gaan ons wegjaag omdat ons sleg lyk. Dit was sulke wonderlike “net saam laf wees tye”.

    EK GAAN JOU BITTER BAIE MIS, MY SKAT.

    Jy ou Cari was die liefdevolste, volmaakte mamma vir ons kinders. Hulle is so bevoorreg om jou as hulle mamma te kon he. Ek en jy het so uitgesien na Durandt se geboorte. Die feit dat hy gebore is met nierversaking en baie spesiale aandag, dieete en medikasie nodig gehad het, het jy so goed handteer. Jy het soveel mooi voorbereide kossies vir hom gemaak omdat hy nie wou eet nie.Jy het sy medikasie so stiptelik vir hom gegee, dat dokters verstom gestaan het oor ‘n seuntjie met sulke erge nierversaking, wat so goed lyk. Jy het vir Durandt in hierdie moeilike siekte toestand, so “opgetel”, dat hy net wil lewe. Jy het met soveel geesdrif vorentoe getree om vir Durandt ‘n nier te skenk. Jy was so bly toe alle toetse uitwerk en dinge in plek val dat jy vir Durandt kon help. Jy sou jou lewe vir jou kinders gee.

    Toe word ons geseen met Dane se aankoms. ‘n Dogtertjie – so soet – so mooi – so volmaak. Ons het geborrel van blydskap. Jy het vir my gese dat ons nou soos ‘n volledige gesinnetjie voel. Ek, jy, boetie en sussie. Ons het gedroom van – Saterdae. Ek en seunings gaan golf speel. Jy en sussa gaan “shop”. Eintlik sou ons lewe nou hier op aarde as ‘n gesinnetjie nou eers begin het.

    Maar my liefie. Die Here het besluit dat Hy Sy mooiste Gerdra blom by Hom wil he. Jy is een van Sy mooiste mooi kinders.

    DIE TWEE KINDERS GAAN JOU BITTER BAIE MIS, MY SKAT.

    Cari. Ek sal hierdie twee kinders van ons grootmaak en versorg na die beste van my vermoee. Ek sal hulle vertel van die wonderlike mamma wat hulle gehad het. Hulle sal jou nooit ooit vergeet nie. Ek sal vir hulle vertel waste groot impak jy op mense se lewens gehad het. Ek sal vir hulle vertel waste “omgee vir jou medemens” tipe mens jy was.Ek sal hulle vertel met waste groot opgewondenheid jy hulle die lewe ingebring het. Die groot deernis waarmee jy hulle versorg het. Ek sal vir hulle al die foto’s van jou wys. Hulle sal jou ken en nooit vergeet nie, my skat.

    Ek het vir Durandt op my skoot getel en gevra wat hy vir oulaas vir jou wil se, my skat. Toe kyk hy vir my met sy groot bruin oe en se: “Se vir mamma Bola is lief vir mamma”.

    Ek het daarna vir Dane op my skoot getel en gevra wat wil sy vir oulaas vir mamma se: Toe kyk sy vir my met haar blouste blou oe en gee vir my die mooiste “smile” – omdat sy geweet het ek praat van jou – ‘n “smile “ net so mooi soos joune.

    Ons is baie baie lief vir jou, ou Cari. Jy moet in vrede rus.

    ONS DRIE GAAN JOU BITTER BAIE MIS, MY SKAT

     
  3.  
    Odette Pieters 16/03/2012 at 21:09 

    Ai my liewe ou sussie, ek mis jou so ongelooflik baie. Ek het my hele 36 jaar saam met jou in my lewe geleef. Dit is so leeg sonder jou. Dit is nou 2 maande en een dag.
    En ek mis jou elke dag net meer.

    Tot ons mekaar eendag weer sien my sussie, dan sal my hart weer heel kan wees.
    Jou kleinsus
    Det
    Xxx

     
  4.  
    Odette 02/09/2012 at 19:39 

    Hallo ou sus. Ons kry swaar sonder jou. Jou klein pop het een jaartjie oud geword gister. Sy is so pragtig soos haar mamma. Ek wens jy was nog hier. Dan was alles nog heel.
    Det